Elizabeth Steenkamp

Aan die vaagheid van die onthou glo ek dat ek nog klein moes gewees het, seker nog nie eens in die skool nie. Oppad na een of ander vakansie het ons stilgehou en uitgeklim op die pad-wal van ‘n baie groot dam. Oral om ons was klein donker kindertjies met die mooiste pers kristalle in die hand. Ametis kristalle wat vir sakgeld, of dalk broodgeld, verkwansel word aan al wat ‘n toeris is.  Die landskap was maar vaal en klipperig en my kleinmensiekop kon nie indink wààr hierdie skatte vandaan kon kom nie. Die wondermooi klippies was skoon uitplek tussen die storielose kliprante en die groot beton damwal. Onverwags so tussen al die vaal. Besondersheid omring, byna verdoesel, tussen die doodgewoonheid van die alledaagse.


“O, my dierbaarste bloedverwantes!” Die lig in haar effe dowwe oë soos wat die herkenning oor haar neerdaal laat dit onmiddelik soos ‘n tuiskoms voel. Ons het haar gekry aan’t water tap vir die troppie rasende ganse langs die groot vyeboom. Haar pers stokie-pantoffels goed vol modder soos sy my om die middel vat vir ‘n drukkie soos net ‘n ma kan gee. “Andries, sit af die water!”, word ons oomblik onderbreek.

Tannie Elizabeth Steenkamp. Sewe-en-tagtig van jare. 


Ons stap langs die sinkhok verby waar vier varkies met hulle snoete in die grond rondploeg. Dit was eintlik maar ‘n wilde kans wat ons gevat het toe ons besluit het om haar te gaan opsoek na ons oor die grens by Noordoewer is. Dit was nie te moeilik om haar erf met sy piesang- en groot vyebome tussen die opskiet doringbome van Vioolsdrif se oewergrond te  kry nie.

Houmoed is haar plaas se naam. Hoekom dié naam? Sy weet nie eintlik nie, maar seker oor die dag wat die moeë mense hier by haar ingeloop gekom het. Hulle vra waar hulle is. Sy sê “Hou moed” en toe groei die naam vas aan die plek en dis tot vandag toe so. 

Een van die min tuinplase hier langs die groot rivier. Van 2002 af het sy die stukkie aarde vir haarself gevat en begin lewe – baie male al het die slimmes of polieste haar kom probeer wegjae van die vlakte af. Hulle sê die waters sal haar en al haar diere wegspoel as die vloede kom, maar elke keer dan sê sy vir hulle “Waars julle se gelowe dan?! Ek weet my saak staan reg voor die goeie Vader.”. Dan loop hulle maar weer en dan lewe sy weer voort. Sy wys na die opdrifsels teen die laslappie heining om haar erf. Met dié jaar se vloed was haar hele plaas onder die water. Die een dag toe swem die varkies en ganse ewe lekker, maar swem swem hulle nie weg nie, want hulle ken mos hulle se huis.


Ons het haar ontmoet langs ‘n waterkanaal buite Vioolsdrif. Dit was ‘n maand of so van tevore. Die idee was eintlik om langs die volvloed Oranje ons koffie te drink, maar die kanaal keer toe dat ons verder kan ry en vir stap was ons nie lus nie. So effe bêk-af oor ons ontwrigte reisplanne en Covid se manier om grenskruisings te befoeter het ek en Jason ons trooskoffie sommer so in die vroegoggendson gesit en drink.

Sy was oppad dorp toe met ‘n stok-kierie vasgevat in haar hand. Die waardigheid in haar praat het my aandag onmiddelik geëien. Elizabeth Steenkamp is wie sy is. En alhoewel die vuil aan haar rok en stukkend van haar skoene gesê dat sy nie ‘n rykvrou is nie, was daar nie eens ‘n sweempie bedel in haar te vinde nie. ‘n Sterk vrou. ‘n Gelowige vrou. ‘n Trotse vrou. 


Die dadelpalm by die mankeliekige hek is in voldrag vanjaar. Tussen die trosse vrugte is daar twee wat netjies met lemoensakkies toegetrek is. Die voëls van die veld is mos die eintlike eienaars van die kosgoed in die natuur. Sy beskerm dié twee trosse vir haar en haar mense en die ander kry die voëls vir hullesigselwers. Eet moet almal mos eet.


Daardie aand slaap ons toe by Tannie Elizabeth Steenkamp. Sy sê Jason moet die kar loop haal dat hy dit hier onder haar boom kan kom parkeer. Sy sal die hek sluit dat die jonges van die dorp nie kan kom karring nie en dan sal almal sommer dink dat Elizabeth Steenkamp van Houmoed ‘n goue nuwe ryding gekry het. Haar lag is so diep soos die kreukels oor haar karamelkleurige wange.  Wollie vreet die springkane van ons kar af en sy skrou “satang!” vir Witpoot wat weer loop skoorsoek by die makoue.

 Jason slaan ons rooi tentjie in die enigste leë akker op terwyl ek gaan vra om ons groot bottel vol water te maak vir die aand. Tussen biesies wat sommer so langs haar bedgoed staan begin ‘n swart pyp borrel en word die houer volgetap met “die varste water wat jy ooit sal proe”.  Omring met vars-opgekomde pampoene en waatlemoene en soet mielies slaap ons die nag. 


Voor dagbreek begin Jase al roer. Ons het vêr om te ry en die dag kan lank raak as ons nie vroeg in die pad val nie. Dit is nog piknagdonker buite en ek wonder of ons nie almal gaan wakkermaak as ons nóú begin oppak nie. Uit die rigting van haar lêplek hoor ons iemand is aan die takkies breek. Die vuurtjie is al aan die brand, swart driepootpotjie aan’t warmword. Sy’t gedroom van ons en moes toe maar op om te sien of is ons nog in ons oulike hutjie en of is ons nog goed en gesond en of staan die ryding nog. “Jy wiet mos hoe listig die duiwel kan wees.”
Net duskant Timi (ons Nissan Micra) se agterbande lê daar ‘n matras en paar grys komberse. “Andries, loep haal jou kooigoed, die kinners wil ry!” skêl sy die donker in.

Daar word gedruk en ekstra lang vasgehou. Ons sal mekaar sien weer, of hier of aan die anderkant. Maar tot dan sal sy bid dat die goeie Vader ons sal seën en beskerm met elke draaitjie wat ons maak tot ons die dag régtig tuiskom. 


Soms, op die mees ongewone plekke, daar waar jy dit op die minste verwag struikel jy oor ‘n skat. Tussen vaal kliprandjies staan klein kindertjies met die mooiste pers klippe in die hand. Skatte uitgegrou en opgetel in ‘n plek waar jy, sonder ‘n soekende oog, dit maklik sal miskyk. Tussen opskiet doringbome en vloedopdrifsels is daar ‘n paar piesange- en vyebome op ‘n stukkke aarde met die naam Houmoed. Tussen rasende ganse en modderige varkies woon daar ‘n juweel van ‘n mens! Onverwags het ons op haar afgekom en onverwags het ons lewens diep geraak geword deur haar. Daar, waar ons dit so maklik kon miskyk. Daar, waar ons dit die minste verwag het. 


Sou daar ooit ‘n dag kom wat jy oppad Namibië toe langs die Oranje by Vioolsdrif ry, weet dat daar ‘n lieflike Tannie daar êrens op die vloedvlakte woon. En sou dit wees dat jy ‘n uur of twee speling het, kyk uit vir ‘n afdraai na regs, so paar kilometer voor die fancy lodge. Daar, net anderkant die kanaal, is ‘n bordjie wat sê Houmoed en daar woon Elizabeth Steenkamp. Sy hou van sjokolade en sal bly wees oor enige pit of saad wat sy kan plant. Gaan doen jouself ‘n guns en gaan ontmoet haar en onthou asseblief om groete te stuur van die twee kinders in die goue ryding! 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s