Niks

Ek kan nie eintlik peil of dit ‘n gesamentlike avontuurlus of ‘n blote behoefte aan wegkom was nie. Dalk was dit sommer net ‘n soeke na ‘n storie om eendag oor te vertel, ek weet nie, maar iets het my en my splinternuwe man laat besluit om na die niksste plek wat ons kon kry te ry. Die onderskrif  op ‘n internet-artikel “Nothingness is our claim to fame” was genoeg om ons te laat gaan soek na Tankwastad (of Tankwa Town wat net soveel lekkerder sê). 


Na twee nagte op ‘n volstruisplaas het ons vir onsself ‘n tweedehandse kaart vir R30 gekoop in DeRust se Toeka Skatkis. Ons kaart het gesê dat daar iewers tussen Ceres en Calvinia die langste grondpad in Suid-Afrika lê en êrens, seker so min of meer halfpad, behoort ons vir Tankwa Town raak te ry. En dit was op hierdie ellelange grondpad wat my kop en hart begin saamrat het oor die volgende skrywe.


Niks. 


Die niksheid van die Tankwa Karoo is besonders. So vêr as wat jy kan sien is dit groot oop vlaktes wat bestrooi lê met pikswart klippies. Die vormloosheid vul my met ‘n vreemde verwondering. Die oopheid asem vars vrede in my in. Die skroeison se blink weerkaats soos ‘n kraai se vlerke oor die landskap. Nie ‘n bossie in sig nie. Kilometer op kilometer is daar nie een enkele teken van lewe of oorlewing nie. Geen bome nie. Hier en daar staan ‘n doringdraad heining, skeef gewaai deur ‘n droeë woestynwind. Ek kon nie anders as wonder vir wat daardie arme heinings dààr geloop maakstaan is nie. Daar is dan geen dier in sig nie. En wragtag, sou jou donkie of melkkoei besluit om híér weg te loop kan hulle maar loop, sonder te vêr kyk sal jy vir ‘n paar dae nog presies kan sien waar die dierasie is. Nie asof daar veel mense of opstalle op die pad was nie. 


Ons het musiek aangesit, vensters oopgedraai en woordloostevrede gery deur die oopheid. Dieper en dieper die niks in. Volledig niks. Nie half-niks soos ‘n kind wie se ouers vir “niks” bang is nie. Ook nie amper-niks soos ouers wie se kinders by kuiermense vir “niks” hulle neuse optrek nie. Totaal en al niks. Verlate, tog vol stories wat vertel wil word. Leeg, tog sprokiesagtig mooi op sy eie manier.  

My gedagtes, windverwaaid soos my nuutgeknipte hare, dwarrel na van die plekke waar daar gepraat en geskryf is oor niksheid, nikshede. 

 Paulus wat sy hart uitstort aan sy mense in Fillipi en hulle sê om oor NIKS te bekommer nie. Maar oor ALLES te bid. Niks is die afwesigheid van alles. Loop ry Tankwa Town toe en jy sal dit sien.  Dit is nie bebou met huise en stede en mense wat werk toe jaag nie. Dit het nie bome of berge of riviere of strande nie. Niks is daar waar jy kyk en kyk en nie ‘n enkele ding kan sien of hoor nie. Dit is oop en dit is vêr. Dit sê, gaan plaas jou bekommer-spasie êrens tussen twee dorpies op ‘n tweedehandse kaart. Verbind dit met die langste lang grondpad en maak dit ‘n plek wat moeilik is om by uit te kom. En terwyl jy dit doen, maak elke liewe ding oppad soontoe ‘n plek waar jy gesels met God. Elke stilsit-skaduboom langs elke vinnig-ry teerpad. Elke diepdink-vulstasie in elke gesprekryke dorp. Om te bekommer oor niks is ‘n geheim wat stadig maar seker aangeleer word deur oor en oor en oor te kies om te bid – in alles, oor alles – sodra jy jouself vang bekommer. Lewe – bekommerd oor niks.


Ek dink ook aan die digter koning, Dawid. “Ek kom niks kort nie” is so ‘n brawe, amper parmantige ding om te sê. Veral as mens dink dit kom uit die mond van ‘n koning met ‘n paleis vir ‘n huis en ‘n beeldskone vrou vir elke dag van die week. Natuurlik skort hy niks, hoe dan nou anders?! Maar jy sien, ek dink só ‘n verstaan is ‘n misverstaan. Dawid het swaarkry en bangwees en verlies en verwerping baie goed geken. Voor sy koningword was hy die misgekykte, amper vergete, seun in ‘n groot familie vol suksesstories. Sy selfversekerde “ek kom niks kort nie” staan op die hakke van ‘n liefderyke beskrywing van die Here as sy Herder. Sy Oppasser. Sy Leidsman. Die Een wat genoeg is, en hom as genoeg beskou, al word hy deur ander as niks gesien. En selfs toe hy alles en nog meer gehad het kon hy dit met oophande vashou, vreesloos oor die toekoms, want hy was diep bevriend met die Opperheer wat in baie en in min sy hart met tevredenheid omvou. Sy Herder-God was genoeg toe hy koning en heerser was, maar selfs meer so toe hy nog onbekend en vergete was, onbelangrik en misgekyk…niks. Amper soos die Tankwa. 


Terwyl die skadu van ons klein, maar dapper, karretjie al langer en langer uitgerek raak klop die laaste niks by my aan. 

 Ek staar voor my uit oor die kale dorheid en ek kyk of ek daardie niks kan raaksien. Ek raak bewus van die perskekleurige lug en pruimpers berge in die verte. Ek sien die pylreguit pad wat in wit stof-slange oor ons truspieëltjie baljaar. Ek ervaar die sagword van alles wat helderhard was soos die son sy groete begin groet. Die blink van die swartklippe word glinsterend goud soos wat ons in stilte die laaste druppels van die dag indrink. Met ‘n weet wat nooit ont-weet kan word nie wéét ek meteens dat ek verniet opsoek is. In die hele heelal, in die verste uithoeke van die verste sterrestelsels, sal ek nie daardie niks kan kry nie. Ek kan soek en ek kan soek, my lewe daaraan wy en alles daarvoor opgee. Ek kan wag en orals loop kyk maar nêrens, nie eens in  die Tankwa Karoo, is daar genoeg niks om te kan verwoord of verduidelik wat daardie niks is nie. 

Daar is een niks wat nooit ooit gevind, of selfs volledig begryp kan word nie.


Dit is die NIKS wat ons van God se liefde kan skei. 

3 thoughts on “Niks

  1. Ek verlang nou om ook iewers so na die niks te kan kyk. Wou self nog altyd in ń woestyn kom, net omdat ek dink mens nog nader aan God kan voel daar waar daar net niks is nie. Pragtig geskryf.

    Like

  2. Beautiful Jans.
    Well written, not one pretentious word.
    Dank Here dat ons alles het in die niksgeid vd wêreld.
    Dink die een kan in ‘n tydskrif gepubliseer word.

    Like

  3. My gebed bly, vir julle, dat julle àltyd sal kan getuig “Ons kom NIKS kort nie” juis ómdat Hy julle Herder is!!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s