Kronkelpad Verrassing

Tannie Carien het altyd gesê dat haar see by Franskraal vele gesigte het, elke dag ‘n ander kyk. Soms so blou soos die hemel op ‘n skreeftrek helder dag, soms so grys en diep soos ‘n bosduif se dekvere. Soms dryf daar spikkels van goud , soms ‘n buitelyntjie van amper-smarag. Ewig anders. Altyd nuut.  Ek is besig om te leerken dat sy oë soos die see is. Dat ‘n leeftyd dalk nie genoeg gaan wees om  hulle volledig te verken nie. 

You: "Skuus vriendin, ek is        besonders sleg op my foon deesdae. Sal later     voicenote, ons reël net eers troue." 
Danny GCEX: "Wie se troue?"
Danny GCEX: "Sê net eers WIE se troue. Later detail."


Ek begryp die verwarring so goed want vandat ek verlede jaar kus toe getrek het is ek mos nou ‘n “aspiring writer”, nie meer ‘n funksieorganiseerder nie. Aspiring writers reël mos nie troues nie.”….teensy dit hulle eie is”, is die fluistering van my hart.


Maar wag, kom ek zoom eers so bietjie uit. 


2020 het ek ingestap met ‘n opgewonde hart en ‘n vaste belofte in die hand. My Ontwerper, wat Sy handewerk so goed ken, deel gewoonlik Sy beloftes aan my in prentjies: 


n Digte bos met takke wat die lug toemaak bo. ‘n Paadjie, vol geheimsinnigheid en mosbegroeide klippe, kronkel tussen die bome in. Soos ons stap is ek in vervoering met al die mooi om my. Orgidee wat in pienk stringe uit donker stamme hang, borriekleurige rakswamme en ‘n lewendige varingvloer. Die kronkel van die paadjie maak dit onmoontlik om te sien wat om die volgende draai lê. “Maar is dit veilig?” wonder my binneste. “Ek is veilig”, antwoord die welbekende Stem hier langs my en hou my hand so bietjie stywer vas.

 In 2020 sal die anderkant van elke kronkel  ‘n verrassing wees. Elke draai beloof ‘n onverwagse nuutheid. Buite my eie verstaan of uitdink. Bo my eie beheer of beplanning. Ontsettend onseker…tog Rotsvas veilig. My hand stewig in Syne toegvou: die bron van elke stukkie nodige dapperheid. Sy by-my-wees: die opgewonde hoop in my hart. Sy vrede, deurweek met my binneste begeertes: die onwankelbare sekerheid in elk tree. 


En wat ‘n kronkelende jaar was verlede jaar nie vir die ganse mensdom nie!


Die eerste groot draai was die pandemie. Het enigeiemand van ons dit, wérklik, sien kom?! Grendeltyd met meer as genoeg dink- en wééstyd het die woorde in my losgewikkel. Ek het weer vir die eerste keer in jare begin skryf. En êrens in Indië was ‘n paar Suid-Afrikaners vasgevang in lockdown. Drie manne met tasse vol stories van onbekende plekke was aan’t wag vir ‘n repatriasie vlug huistoe.  Met meer as genoeg leestyd het die man met die blou oë op my woorde afgekom. Piet-my-vrou en die Bosstroom het ons na twee, kontaklose jare, weer laat kennismaak. 


Nog ‘n kronkel…


My trek Jefferiesbaai toe was effe onbepland en redelik planloos. Nee wag, kom ek wees eerlik, dit was totaal en al onbepland en absoluut planloos. Die hartsbegeerte: ‘n sliwerskoon skryfbord. Die uitroep aan my Koning: “Ek is beskikbaar, Here, gebruik my!” 


Intussen het die repatriasie vlug uit Indië gerealiseer en is die drie manne terug na hul tuisland van boerewors en braaivleis. Die  ontdekkingstog deur Persië kortgeknip. Onbepland. Ongevraagd. Terug huistoe. Kus toe. Jefferiesbaai toe. Aan’t droom van die van die volgende missie landuit. 

Weer ‘n kronkel…


In die luuskse stadigheid van skryf en verf en lang stappe op die strand het my hart gedraai na ‘n verre land. ‘n Plek waar Lig min is, Liefde skaars en Kerk onwettig is. As party geroep is na Judea en ander na Samaria toe, dan weet ek dat die jarelange passie in my hart ‘n duidelike aanduiding is dat ek gemaak is vir die Uithoeke. Die ondergrondse Uithoeke. 


Lank voor ek my eie “Ja” vir gaan kon gee, het die man in Indië sy eie “Ja” voor ons Koning vasgemaak. Die wete dat hy nie alleen gaan gaan nie was lank voor my al in sy hart ingeëts. Hy sou ‘n span begelei wat sy passie en liefde deel. 

 Elke kronkel-keuse het my tot langs hierdie man gelei. Elke oë-toeknyp geloofs-ja het my tot aan sy sy gebring. Oor en oor. Nader en nader. Onontwykbaar duidelik dat hierdie plaasmeisie deel van sy span moet wees. Onontkenbaar dat ek die beloofde reisgenoot is. So asof die Koning van die kronkels toe al die tyd ‘n Match Maker ook kon wees. 


Dit was nie lank voor die vlinders my hele binnewêreld bevladder het nie! O jinne! Maar dis ‘n hele ander boek, lied en bundel vol gedigte werd! Al wat ek kan sê is dat Karools, my twee-jarige Karee bonsai en Braam Bosman, my liefling krimpvarkie, na die tweede tee-kuier met die blou-oog man uitstekende vioolspelers geword het…TWEEDE viool spelers! 

Ja, dis die begin van my en Jason Migal Pienaar se storie. Die res…wel, ek het Covid en ‘n kêrel vir Kersfees gekry. En nou, twee maande later giggel ek nog verleë wanneer ek myself as Jansie Malan voorstel! Want na drie troues binne ‘n maand gedroom, beplan en gedoen is ek nou Jansie Pienaar! En dis ‘n absolute fees! 


So, behalwe om konteks te skets vir die volgende skryfstuk wat in my binneste broei, wat wou ek nou eintlik sê vandag?

Ek wou jou moed in praat om braaf te wees in elke tree van die pad wat jy stap! Wees getrou aan die Een wat jou liefhet, hier en nou. Wees goed vir jouself en lief vir ander. Hou op worry oor dit wat dalk agter die kronkel doer voor wag. Jy is nie nou daar nie. Jy is hier. En daar is genade jou vir hier en vir nou. Anderkant die draai sal daar genade wees vir daar en vir dan. Moenie jou moegmaak met die dinge wat jy nie weet nie. Haal asem. Kyk rond. Sien die mooi. Geniet die mooi. Laat gaan. Vertrou in God. Hy is goed. Laat gaan. Vertrou. Want een kronkel lei na ‘n volgende kronkel en wie weet waar jou volgende “Ja” jou na toe gaan lei. 


Ek glimlag, want ek besef dat my hart eintlik stilletjies sigbaar was in elkeen van die afgelope klomp skrywes. Wat ‘n vreugde om dit nou, oop en bloot te kan deel! 
Die vriend met die blink oë wat vertel het van sy ouma was dieselfde man met wie ek twee weke gelede getrou het!(Onder ontgunde ska(g)tte) Sy ouma is nou my ouma en myne syne!  In Somer was die “ons” wat saam in Fruit’nVeg ingestap het om sop bestandele te koop  dieselfde “ons” wat nou-nou saam gaan teemaak op ons nuwe trougeskenk kampstofie. Skrywer wat my man is, was hy die oor agter die skerms wat Waar wonder wink vir my geproeflees het, die een wat ‘n titel vir die skryfstuk uitgedink het. Hy was deel van die wink agter die wonder! En as daar ooit ‘n tyd was wat my hart vol blinkoog verwondering en asemwegslaan bewondering voor die Groot Storieverteller gestaan het,dan is dit nou! Meer as ooit! Dat Hy toe al geweet het dat die vriend vol drome en stories en avontuur die man is saam met wie ek die res van my aardse lewe gaan reis en leef en lag!


Wat ‘n wonder!

12 thoughts on “Kronkelpad Verrassing

  1. Jansie, moet nóóit ophou skryf nie! God sal Sy Wysheid aan jou openbaar sodat jy dit met die wêreld kan deel….dit is pragtig…n mos kombersie!

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s