Somer

Ons het gisteraand sop geëet. Dit was 7 Desember 2020. Sop. Nie voorgereg-sop uit oulikgeit of  koue sop uit grêndgeit nie. Nee. Warm. Romerige. Groentesop. Want dit was sopweer. Reënerig en mistroostig en koud. In-die-bed-bly-weer. Winterweer. Spandeer-jou-dag-soos-7deLaan-karakters-in-koffieshops-weer. Sopweer. Dit was 7 Desember 2020. 


Vanoggend het ‘n seun op sy fiets met ‘n sonbril en ‘n surfbord verby my zzrrtttsss. Soos ek hierdie skryf sit ek op die strand net anderkant die karavaanpark in die middeldorp. Ek sit op die strand want vandag is dit nou weer warm. Vrêk warm. Sweet-jouself-wakker warm. Al is die son en strand gesluier agter ‘n dynserigheid kom vind die klam warmte lêplek op my vel. Die donker spikkelsee van gister is vandag wit en wollerig, blink asof met ‘n HB potlood ingekleur. Die dreunende golwe van gister breek vandag binnesmonds waarna dit met ‘n gladde tttttssssss opkruip tot hier net duskant my tone. Op die oomblik kry ek geglo dat dit eintlik somer is, dat dit regtig 8 Desember 2020 is. 

 As gevolg van hierdie kusdorp se wipplank-weer sit die Vrystater in my met ‘n effense wantroue in die werklikheid van hierdie nuwe seisoen. Ek is gewoond aan ‘n somer wat sy woord hou, wat opdaag en bly vir ‘n goeie drie maande aaneen. Dae wat warmer is as wat jy in die wintermaande kon opdroom, want daar was winter ook onmiskenbaar wínter. Jy het nie gewonder of dit régtig winter was nie, die dooie natuur en pynkoue nagte het dit onmisbaar duidelik gemaak. Die somer se onbreekbare hitte en dorheid was ook defnitief en duidelik. Sonder wonder. In Bloemfontein is somer sómer. O, maar nie in Jefferiesbaai nie. Nee, hier is dit vanoggend somer met strande vol wandelendes in swembroeke en vanmiddag winter met huise vol wol musse en stomende stowe. Glo my, die kontras is byna lagwekkend! 

Doer voor my my speel die mooiste toneel af. ‘n Groot, vet labrador is besig om sy lyf Ryk Neetling te hou. Sy basie gooi ‘n stok in die skuimende branders in en ou grote hol pylreguit en vol selfvertroue die water binne. Die golwe is eintlik nogals rof en hy word sommer dadelik getuimel en gerol. Soos ‘n walrus word hy uitgespoel. Stokloos. Die groot lyf draai om en bons terug na sy basie, opgewonde en vol lekkerte, pienk tong uit en oë blink vol verwagting. Sy hele lyf sê, “Okey, okey, kom ons probeer weer! Asseblief! Nog ‘n keer! Kom. Kom! Kom ons probeer weer!”. Basie gooi nog ‘n stok. Weer . En daar storm hy die golwe in. Weer. Hy rol. Hy tuimel. Uitspoel. Nog ‘n stok weg. Bons. Opgewonde. Gooi. Storm. Weer. En weer. En weer.


Dit val my by dat ek, oom Basie en sy lab deel van ‘n hele menigte hier langs see is vanoggend. Sien, dit is een ding van hierdie kusbewoners, hulle benut hul somersdae volledig! Ek is besig om dit te leer by hulle.  Die dae, of ure, wat die son skyn word daar geswem en getan en gefrisbee en gedraf en geroomys en gesomer tot op die laaste nuppertjie. As die son vandag skyn sal ons hierdie dag in totaliteit leegtap en droogsuig want vir al wat ons weet eet ons môre aand weer sop. 


Hierdie somer laat my dink aan 2020. Wat ‘n wipplank tweede helfde van die jaar was dit nie?! Ek hou nie eers meer trêk met al die mag’e en mag’ies wat ons President vir ons sê nie. Ek sorg maar net dat ek Donderdagmiddag al Saterdagaand se braai-Merlot koop en dra my masker heeltyd of ek nou moet of nie. Ek droom my vakansie drome maar eerder binnelands en was my hande vir 40 sekondes onder lopende water. Net vir ingeval. En ek weet dat ek nie eens ‘n rowwe jaar gehad het in vergelyking met meeste van die mense in ons land nie. Ek luister na stories van sommer net my  eie vriende en besef dat hierdie jaar so baie van hulle rof getuimel en gerol het. Net toe ons geglo het dis somer, toe eet ons weer sop! Net toe ons weer mekaar kan sien en saam kan sing, toe raak iemand weer siek! Toe moet almal weer afsonder. Wipplank. 


Gister het ons gou ingedraf by Food Lovers om pampoen, knoffel en uie vir die sopmakery te kry. ‘n Kaleidoskoop van kleure het ons by die deur al gegroet soos wat die somervrugte in die dorp aangekom het! Dit was waatlemoene en pers pruime net waar jy kyk! Dun skil spanspekke wat sommer van oor ‘n afstand al soos vakansie ruik. Perskes met rooi wange, fluweel velle en gladde geel lekkerte. Appelkose. Pere. Litchies.Aarbeie. Bloubessies. Papajas en mangos en piesangs en pynappels. En al het die snerpwind buite geruk en my voorruit vol yskoue druppels gelê was dit absoluut somer daar binne-in die winkel. Want, behalwe vir sonskynwarmte en roomysweer, is somer mos ook ‘n tyd van vrugte!


Ek besef dat ons almal se somers anders lyk, en voel, hierdie jaar. Vir een mag dit dalk dae van konstante warmte en sonskyn wees, vir ‘n ander dalk een stranddag in ‘n see van sopweer.Wat wel belangrik is is die waarheid dat dit wél somer is! Of jy dit nou voel of nie, Food Lovers Market is die bewys daarvan! Hierdie is die seisoen van vrugte en daar ís vrugte na 2020! 


 ‘n Kaleidoskoop van vrugte! Een is dalk om, danksy grendeltyd, daardie bure anderkant die heining beter as verlede jaar dié tyd te ken. Ander se vrug is dalk die suksesvolle nuwe besigheid wat hul begin het. Vir ‘n ander is dit bloot die brawe nee-sê vir daardie donker gedagtes waarmee jy elke oggend wakkerword. Of die bespreking van daardie langbeplande vakansie weg. Of om ‘n gesonde maaltyd vir jou gesin te kook of om sommer net jou bed op te maak. Ja, nes ons somers, lyk ook ons vrugte nie eenders nie.


Mag jy nie die soet van jou eie somer mis nie! Mag jy die sonskyndae raaksien en dit volledig uitsuig en droogtap met roomys en swem en tan en strand. En as jy moreaand weer sop eet, dan eet jy daardie sop. Maar, en dié is belangrik,  as die son vandag oor jou skyn gaan en geniet die see, want vandag is dit somer.


Mag jy die kaleidoskoop vrugte van die Onveranderlike Een geniet! Gaan stap in die Food Lovers van Sy woord in en gaan eet van Sy liefde en getrouheid en vrede en vreugde en sagmoedigheid. Gaan herinner jouself aan die waarheid dat Hy goed is al ruk die koue wind daar buite! Gaan glo bietjie weer in Somer. 


En dan, as jy getuimel is hierdie jaar. Gerol en uitgespoel deur golwe wat sterker is as wat jy kon hanteer. As dit jy is, dan bid ek vir ‘n bonatuurlike Hoop om jou te vul. Dat hierdie Feestyd ‘n diep  binnerus en sielsvrede vir jou sal bring. En dat daardie Rus en Vrede en Hoop jou soos ‘n groot vet labarador sal laat omdraai na jou Basie toe en laat sê oor 2021:
“Okey, okey, kom ons probeer weer! Asseblief! Nog ‘n keer! Kom. Kom! Kom ons probeer weer!” 

6 thoughts on “Somer

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s