Die Storieverteller

"O life...That you are here - that life exists, and identity; that the powerful play goes on and you may contribute a verse. That the powerful play goes on and you may contribute a verse.

What will your verse be?"

-John Keating, Dead Poet Society


Ek wou skryf en ek wou skryf maar ek kon myself net nie tot op die punt kry om te kom sit en te begin verduidelik aan die konteks van hierdie volgende skrywery nie. Die Engelse sê dit mooi: descriptions en explanations. In Afrikaans is dit beskrywings en verduidelikings. Jy sien, ek is nie lus om die lewe en my ervaring daarvan te verduidelik nie, dit is daarom dat ek nie wou skryf nie. Ek is wel lus om die lewe en en my ervaring daarvan te beskryf, daarom is ek oraait daarmee as jy vrae het wat ek nie antwoord nie. Daarom gaan ek aspris nie verduidelik hoekom ek en drie manne so paar weke gelede gewaai het toe ons maats met die bussie wegry en ons êrens langs die pad  gelos het om terug te ryloop Jeffriesbaai toe nie. 

My swerfgenote.
Andrè het ‘n lag wat almal in die omtrek kan laat saamlag. ‘n Man wat spesiaal geseënd is met ‘n skaamteloosheid, ‘n liefde vir geselsies maak en ‘n raaksien van die onsigbares. Frankie, die interessantste kombinasie van iemand wat totaal en al ontspanne is, tog heeltyd  aan-die-gang is. ‘n Leier wat kan volg, ‘n vriend wat kan luister en ‘n volwassene wat kan speel. Jason het oë wat mooi kan raaksien en ‘n hart wat dit vir ander uitwys. Hy is ‘n storieverteller van formaat, ‘n dromer wat altyd gereed is vir ‘n avontuur en ‘n meester in die kuns om bloot te kan wéés.

 By die ingang van Bonnievale kelder het ons eerste afspraak stilgehou. Wilmari. “Wat maak julle?!”, het sy amper kwaaierig deur haar halfafgedraaide venster geroep.  “Haai Tannie, uhm ons hitchhike Tannie.” , vat Frankie sommer voor. “Waarna toe?”. “Uhm…wel waarna toe ookal Tannie oppad is”. 
Die 30km Robertson toe het teen ‘n slakkepas beweeg soos wat ons stories en getuienisse en gebede oor en weer soos padkos uitgeruil het. Byna twee ure se diep-geraakte, God-deurweekte samesyn.
 Wilmari het daardie af-oggend sommer net gevoel dat sy, pleks vat ontspan in haar strandhuis, moet rondry vir die dag. Net duskant Bonnievale sien sy toe die vier jonges langs die pad staan en ervaar hoe die Heilige Gees vir haar sê om stil te hou. As jy gewonder het, daardie vier was ons.
‘n Godsbeplande kruispad. 

Aan ‘n langtafel by kerslig het ons die aand aangesit op ‘n olyfplaas buite Ladismith. Oom Kotie en Tannie Rina is jare lank al hoofkarakters in ons Malan-gesin se storie. ‘n Vinnige bel en vinnige nooi het uitgedraai in die lieflikste aand vol vertellings van geloof en sorg en God se getrouheid uit hulle sendingjare in Mosambiek. Daardie eetkamertafel het soos ‘n vulstasie vir my eie geloofstenk geword waar ek oor en oor en weer en weer kon hoor van hoe mooi ons Here sorg wanneer ons dit waag om Hom met alles te vertrou. Ons vier jonges, nog redelik vroeg in die storie van ons lewe, elkeen op ons eie manier aan die droom om te “gaan”. Die voorreg om te kan aansit by ‘n oom en tannie wat alreeds “gegaan” en “teruggekom” het, soveel verder in die storie van hulle lewe as onsself. ‘n Onverwagse aand waarin hulle lewendige vertellings weer vars geloof in ons God se getrouheid kom bevestig het en die braafheid om Hom volledig te wil vertrou kom aanvuur het! ‘n Aand wat dalk vir hulle bloot ‘n sinnetjie was, word toe vir my ‘n hele hoofstuk vol waarhede en wyshede waaruit ek vir nog baie jare gaan put.

In Barrydale woon ‘n dame iewers uit Brittanje. Die manier waarop sy ons gegroet het was net so statig soos die roostuin van haar buurvrou. As jong getroudes het sy en haar oorle’ man hulle harte op hierdie kunsdorpie verloor. Baie jare na sy afsterwe is Suid-Afrika steeds haar huis, alhoewel haar aksent en manier van wees nooit nié Brits sal wees nie. Sy’t ons vertel waar ons die son sal kan sien sak. Die groot berge waarin die dorpie toegevou is sal dan “a soft apricot” kleur word.
Haar oë so sag soos haar stem so sag soos ons vinnige ontmoeting. 

Op ‘n reëndag soos vandag dartel my gedagtes terug na daardie laaste oplaai by die Natures Valley bord langs die N2. Die lirieke “die gelukkigste wat ek ooit was op die naat van my rug in die natuurreservaat” syfer in my onthoue in en ek weet dit sal vir altyd een van die gelukkigste oomblikke van my lewe wees. 

Oë skrefies van die wind wat my krulle in ‘n onbetoombare warboel in waai. Die groenste groen berge en bome en valleie wat verby gly terwyl die vryheid in my hart hardop my my keel uit skater.
Wat ‘n wonder om te kan lewe!
Lewe op so ‘n eerstehandse manier dat ek die mooi nie bloot deur ‘n venster of kameralens hoef te bekyk nie. Nee, eerstehands toegewikkel in wonder êrens tussen ‘n hout laaikas, bakkie-agterklap en my drie hartsmaats. 

Ek onthou hoe het ek daar gesit en droom oor die Skrywer van my lewe. Die Groot Storieverteller wat dit goedgedink het om my op onverwagse, agendalose avonture soos hierdie een te lei. Die Verteller wat my storie met geheimenisse en verassings en splinternuwe ontdekkingsreise, soos die een waarop ek myself tans bevind, inkleur. Ek moet erken, ek is op tye self verbaas oor al die nuutste intriges wat Hy inskryf, verstom oor die ontwikkelende karakters en die onverwagse spanningslyne wat elke nou en dan om en in my ontvou. 

Wat my selfs meer betower is hoe graag Hy ons in ander mense se stories inskryf. 
Hierdie spontane swerftog het my weer so vars bewus gemaak daarvan. Daar is soveel mense in wie se lewensstories ons ‘n blote sinnetjie gekry het.
Vyf naamlose karakters wat vinnig-in en vinnig-uit ‘n verskyning in ‘n klomp wildvreemdes se stories maak. So vinnig soos wat ‘n “Kom klim” en “Dankie vir die lift oom!” tussen twee klein dorpies kan gebeur. So ondeurdagt soos wat ‘n stilstaan en raaksien van die vrou met die hangskouers en rooi vlag by die RY-STOP kan gebeur. So agendaloos soos wat die omdraai en terugstap en spesiaal dankie-sê vir die meisie by till met die hartseer oë, maar vriendelike glimlag, kan gebeur. 


 Jy sien, in die Hande van die Groot Storieskrywer het hierdie skynbaar betekenlose sinnetjies krag om die koers van ‘n moedelose bestaan te verander. ‘n Vinnig-in, vinnig-uit word ‘n geleentheid waar God een van Sy moeë mense met hoop en uitgesoekte-liefde kan bedien. Die klompie kilometers saam ingeprop op ‘n agtersitplek word die venster waardeur Jesus na ‘n vergetene kan uitreik en sê “Ek sien jou! Ek is lief vir jou! Jy is belangrik vir My!”. Die koffie by die vulstasie word die aansmeer van ‘n  bietjie heelword-balsem wat die seer leemte van ‘n kind, te vroeg geneem, kom betermaak. Die lewe en lag en lafwees van kinders agter op ‘n bakkie word God se Vaderhand wat ‘n kwaai hart, vol te-veel-boosheid-al-gesien-hardheid, kom sagter maak. 

 En soos ek sit en terugdink weergalm Robert Williams se stem uit een van my gunsteling films :

 O life...That you are here - that life exists, and identity; that the powerful play goes on and you may contribute a verse. That the powerful play goes on and you may contribute a verse.

What will your verse be?

Wat sal jou sinnetjie wees?

3 thoughts on “Die Storieverteller

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s