Waar Wonder Wink

Die donker van die see was gegordel in ‘n pylreguit band van goud en geel en die sagste sag oranje. Die oppe van die golwe was geverf in perskepienk, die affe, teerblou en diep. Dit was ‘n spesiale datum en ek wou die dagbreek saam met die Skepper van hierdie see vier. 


‘n Walviskykbankie met ‘n ruglening en die kuithoogte stapel joernale van die afgelope twaalfjaar se onthoue en groeie en huile en lagge. ‘n Bederf-my-stokkie skuimkoffie met byna twee ure se vertoeftyd voor die dag se doendinge wakkerword. 
Doer onder my was die eerste branderplank ridders al aan die uitroei om die wit perde van oseaan te begin tem. Hulle was lank voor my al daar. Lank voor dagbreek al gekoffie en gepanser teen die koue wat wag.


Die skuimende branders was  bespikkel met lywe op planke wat een golf na die ander  probeer uitry. Swem uit, hang ‘n oomblik agter die wit pluime, spring op en gly teen die hange van die deinings af. Van die tien of so brawes was dit een spesfieke man op sy bord wat my oog vasgevang het.


Hy was vêr eenkant in die water. Weg van die aksie in die golwe. Iets in sy omdraai en see-toe kyk het dit verklap dat hy nie regtig daar as vir die branders nie. Soos hy een na die ander deining verby laat rol het het hy die goue son sien opkom oor die water waarin hy was. Hy was daar vir die wonder…


Die hobbellende dolfyne het net voor die son gekom. Aanvanklik ‘n handvol donker stippels net duskant die horison.  Binne ‘n halfuur was  daar vin-tekens van meer as honderd dolfyne in die baai. En die man in die water het saam met my gesit en staar. Hy het nie beweeg nie, nie ‘n golf probeer ry nie, net gesit en staar na die vêraf mooi. 


Dit was byna ‘n uur in die staarery in toe ek die naby-vinne die eerste keer gesien het. ‘n Skool van byna twintig was ‘n handjie vol meters weg van  die waggende man gewees. Binne sekondes was die dolfyne bý hom, óm hom! Hy was omsingel met daardie wonder waarvoor hy so gesit en wag het! 


My hart kan net indink hoe wonderwerk mooi daardie oomblik vir hom moes wees. Ek kan sommer hoor hoe hy daardie dag vir mens op mens vertel het van die asemrowende ervaring daardie oggend. Hy was daar vir die wonder, en die wonder het hy gekry…


Iets effe snaaks van die toneel was dat die ander golfryers ook die skool dolfyne gesien het. Redelik sparetelend en so vinnig as moontlik het hulle probeer uitswem tussen die golwe uit om ook in die oomblik te kon deel. Nodeloos om te sê, hulle het dit met ‘n katspoeggie gemis. 


Soos ek terugdink aan hierdie oggend is daar ‘n roering in my hart oor die goedheid van ons God. Jy sien, ek glo dat wonder en verwondering veel meer as bloot ‘n manier van kyk of ‘n bewustheid van mooi is. Dit is die uitvloeisel van ons belewenis, ons kén en ons absolute oortuiging van God se goedheid.  Deesdae raak ek meer en meer bewus van hoe onbeskryflik goed Hy is en hoe graag Hy ons bloot wil stel aan daardie goedheid. Hy wil hê ons moet dit ken en ervaar en beleef. Nie net met ons koppe van weet  nie maar met ons lywe, ons emosies, ons hele wese kén. 


Tannie Sannie is een van daardie onthoumense uit my kinderdae. Sy het ‘n swaai in ‘n siringboom en ‘n bedding vol koringblomme gehad. Sy het gloliedjies in die nag by die Here gekry en dit op kleurvolle notapapiertjies neergeskryf.  Haar mond het oorgeloop in die trane oor haar wange soos sy  saam gedans het op die  kinderkranskoortjies wat sy vir ons geleer het. 


Ek het so ‘n maand of wat gelede by haar gaan tee drink, die eerste keer in meer as vyftien jaar. Alhoewel die poniestert-grootoog-dogtertjie ‘n vrou geword het, het die gryskop tannie oorkant my nog presies dieselfde gelyk. Lank na ons kuier het ek nog rondgetas na woorde om te verstaan hoekom tannie Sannie my lewe so onherroeplik verander het. Ek weet nou wat dit is: sy is absoluut deurweek met die goedheid van God. 

Dit is nie dat sy bloot “acquainted” daarmee is  soos daardie mens wat jy een keer ‘n jaar by ‘n gesamentlike vriendin se verjaarsdagtee of troue raakloop nie. Nee, sy ken God se goedheid soos ooms en tannies mekaar na sestig jaar se getroudwees ken. Sy praat daarvan soos hartsvriende wat  mekaar se diepste sielsgeheime bewaar. Sy ontmoet dit in die lekker dansliedjie was in Checkers speel, die landery-uitsig by haar wasbak. Sy sien dit raak en drink dit in en skryf dit neer en loop oor daarvan. Sy dans dit, proe dit, sing dit, glo dit, leef dit. Sy is deur en deur deurweek daarmee…vir so lank as wat ek haar ken, en nogsteeds. 


Tannie Sannie verstaan die goedheid van ons God. En daarom is sy ‘n vrou van wonder.


So, as verwonderig ‘n gevolg van God se goedheid is, hoekom is dit dan dat daar mense soos Tannie Sannie is wat so tot oorlopens toe vol is daarvan, en ander nie? As wonder nie afhang van ons omstandighede of ons gemoedstoestand nie, maar absoluut nét van die feit dat God goed is, hoekom wissel dit dan so tussen ons mense wat glo? Is ons dan nie almal veronderstel om ewe verwonderd, ewe tevrede en vergenoegd deur die lewe te gaan nie? 


Ek dink meeste van ons ken die storie van die Israeliete en al hulle diere wat droogpoot deur die Rooisee geloop het. Danksy Prince of Egypt en die klassieke Kinderbybel  glo ek dat die meerderheid van ons een of ander prentjie in ons kop het  van hoe ‘n hele see se water saamspan en ooptrek en soos blou mure padgee voor die mense van God. ‘n Minder bekende feit is wel dat daardie see nie net dadelik oopgegaan het nie. Oom Moses het nie net sy stok ingedruk en dit oop beveel nie. Nee, vir ‘n hele nag het daar ‘n Oostewind gewaai terwyl die volk waggend kamp-opgeslaan het. Vir ‘n hele nag het hulle in spanning gewag om te sien hoe en wanneer hulle God vir hulle gaan opdaag.

Vol verwagting, sonder om te skuif of enige ander plan te maak. Wag. Wag om te sien. 


Hierdie wag-tema is orals deur die Bybel sigbaar. Dawid sing daarvan, Jesaja proffiteer daaroor, Salomo wys dit uit en Saggeria het ook iets daarvan verstaan. Die mooiste “wag” vir my was toe Jesus vir Sy vriende gesê het dat hulle, na Sy hemelvaart, moet teruggaan Jerusalem toe en wag op die geskenk wat God vir hulle gaan gee. Was dit dat die Heilige Gees, soos ek meeste van die tyd, bietjie agter skedule was, of miskien Sy aanvanklike bus Aarde toe verpas het? Was Hy laat, of was dit eerder God se manier om Sy mense iets baie spesifieks te leer?! 


Jy sien, die dolfyn-man op sy plank het my iets hiervan kom wys… Die kuns om te wag plaas ons, posisioneer ons, op ‘n plek waar ons God se goedheid eerstehands kan ervaar. Die kuns om te wag wat brander na brander laat verby rol, wat kamp opslaan en vol verwagting uitkyk en stilword en rondhang tot jy die skool dolfyne, die see-pad, die goedheid van God gesien het!  Net soos tannie Sannie is dit nie passief en ontwykend nie. Dit is aktief besig om uit te kyk en te soek na plekke en dinge en reuke en klanke en oomblikke waar God Sy wonderhart met ons Aardbewoners deel. 

Die kuns om te wag is nie die afwesigheid van die alledaagse lewensdinge nie, dit is die teenwoordigheid van God  en Sy goedheid in daardie dinge.


Mag jy, en ek, nie tevrede wees om op die walviskykbankie te bly sit nie. Mag jy ook nie vasgevang raak in die skuimende branders en opwinding van die oomblik nie. Mag jy uitroei en uitkyk en wag…wag tot die Wonder jou kry! 

3 thoughts on “Waar Wonder Wink

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s