Onderontgunde Ska(g)tte

In die land van goedkoop plastiek en amper-egte glas lê daar groot hope gruis as getuies van skagte vol onontdekte, onderontgunde skatte! 


“Jy kan deesdae enige ding oor die Internet leer” voel amper soos die kredo van ons tyd.

Is jou droom om ‘n landskap in die mis met ‘n huisie, waarby die kaggel brand, te betower met ‘n kwassie en ‘n  waterverfpallet? Of dalk om ‘n agt-sitplek-eetkamertafel te maak met niks meer as ‘n klomp koeldrankbottels en ‘n yshouertjie nie? Wil jy graag panfluit leer speel of jou hand aan Skandinawiese digkuns probeer? Moenie verder droom nie, Youtube is die plek vir jou! Wonder jy wat die verskil  tussen ‘n peskitarieër en fleksitarieër is en wat jy nou eintlik vir wie mag voer? Of weet jy waar die diepste plek in die oseaan is en hoe die lelikste vis onder die son lyk? Moenie bekommer nie Google het al die antwoorde waarna jy opsoek is! Een of twee sleutelwoorde, search en siedaar! êrens behoort ‘n blogger, vlogger of sommer net half-waar artikel tot jou redding kom! So leer jy sommer presies wat jy nodig het om te leer. So kry jy alles wat nodig is om slim te klink en saam te praat! Tjoef tjaf, maklik! 


Ek gaan dalk op jou tone trap en ek is okey daarmee. Volgens my is meeste van hierdie tjoef-tjaf kitskennis redelik soortgelyk aan silwer plastiese juwele met neonpienk en babablou glas steentjies op die draairak langs Crazy Store se betaaltoonbank. Ja, goedkoop en sommer bietjie kommin terwyl daar nog soveel wêrklike skatte in ons midde is…terwyl daar nog myne vol goud en diamante is wat dag in en dag uit misgekyk word. 


Ek en ‘n goeie vriend het nou die dag loop dwaal in die geselse van ons oumas. Hy wat met opgewonde oë vertel hoe hy bloot nie anders kon as om haar weer te vra oor al die bekende stories wat hy al oor die jare so lief voor geraak het. Die moet-doen-dinge van die dag verdamp in die luister van ‘n tyd soveel anders as die een waarin hy homself nou bevind. Soos ‘n aflosstokkie se oorvat het ek vertel van ouma Hettie en haar onthoue van hoe dit was om ‘n skrywer vir ‘n ma te hê. Die vakansies se onderstebo-leer-lees sodat sy Ouma Paula se nuutste boek kon volg soos wat dit woord-vir-woord vorm gekry het. Haar introu in die “wilde Malanne” van Keimoes. Oupa se aanlê by haar en die eerste kuier as jong onderwyseressie tussen sy string boeties en sussies langs die grootrivier. Die grootmaak van vyf kinders, binne ses jaar gebore. Ouma, die vrou met die groenste vingers wat ek ken en die mooiste opkyk na haar Mammie. Goud…


Tannie Salomie is ‘n vriendelike tannie vol lewenslus en lekkerte. Ek het haar net nou die dag ontmoet. ‘n Vinnige inloer het verander in ‘n uurlange reis na die wonderlikste herinneringe van vroeër jare. Erens deur die vertellings van honderde koeksisters gebak en die kollege in Graaff-Reinet het ek haar my gunsteling vraag gevra: “Tannie, na meer as sewentig jaar se lewe, wat is die één belangrikste ding wat Tannie vandag vir my as jongmeisie kan leer?”. Stil. Oë wat verder dink as wat sy deesdae vergeet. Skrefies. Glimlag. “My kind, dat jy maar net jouself moet wees. Sonder tierlantyntjies. Sonder grêndwees. Wees net wie jy is.” Diamante…


Soos ons uit hierdie grendeltyd uitbeweeg besef ek dat daar dinge is wat ons nodig het om oor te rou. Dinge wat ons verloor het. Dinge waarop ons uitgemis het. Saam met Chocolate Log en Rooi Rose, die Volksblad en Pasta plek in Tweede Laan het my hart saam met my oë getraan oor die uitmis op my Sondae kleinood van die vorige jaar of twee.


Tahet is my Bloemfontein-ouma wat nog nooit eintlik bloedfamilie was nie. Sondae na kerk sou ek sommer spontaan inry by die aftreeoord met ‘n bossie blomme uit iemand anders se tuin. Vir die volgende uur of so sou ek varskoue Jannieverjaarkoeldrank, uit die breëbêk bottel in haar yskas, drink en luister na stories van toe sy ‘n jongmens was. Gebore 1937, soveel dinge om te onthou. Omring met ingevulde blokkiesraaisels en sudoku-boeke sou ons so saam-saam meegevoer raak na ‘n vakansie propvol snaaksighede en kultuur in Israel. Of terug na die verhoog waar die laerskool spreukkoor versies opgesê het in die laat veertigs. Sy was ‘n kleuter gedurende die Oorlog. In die tyd van Sus en Daan was die Oranje meisies reeds in pampoenrokke getooi. Iewers tussen die vêr-terug-onthouery deur sal sy handrem optrek en sê “Maar nou eers oor jou…”. Dan word daar weer uitgvra oor my werksure en projekte en dinge op die plaas en ek het tyd om alles van my lewe te vertel. 


Ek en mamma het nou die oggend gaan kuier en op die sagbekende sonstoel gesit. Vir die eerste keer in my hele lewe se kuiers by Tahet het ek nie rooikoeldrank gedrink nie maar tee uit ‘n sondagkoppie met ‘n piering! Ek kon nie my trane keer nie want ek het besef dat die groot spesiaal van die oomblik oor soveel meer as die bederf-koppie tee gegaan het. Vir die eerste keer in meer as ses maande is ons toegelaat om by hierdie liefling Tannie te kuier!

Ek het gehuil toe ek die dag die boks naartjies en pak malvalekkers by die sekuriteits-oom agter die getraliede hek moes afgee. Ek het gehuil toe mamma haar verjaarsdag eetgoedjies saam met Esther die versorger moes instuur na haar huisie toe sonder eens ‘n geluksê soentjie. Ek het gehuil toe ek op die nuus sien dat die Europeers plastiekpakke kon aantrek om hulle seniormense drukkies te kon gee en ons dit nie ook kan of mag doen nie. Ja, ek het gehuil en ek het gedink dat die huil was omdat sý alleen en toegesluit is, omdat uitmis op die jaar en omdat ons nie by haar kon kom kuier nie…maar nou verstaan ek daardie huil beter.


Nou die dag op die sonbank met die koppie tee in my hand het ek besef dat my huil eintlik meer oor myself gegaan het. Dit is ék wat vir ‘n volle ses maande uitgemis het op geselsies en kuiers saam met hààr. Stories en “vertel nou van jou” oomblikke. Ek voel soos ‘n armer mens as gevolg van dit. Beroof van die rykdom uit ‘n wêreld so byna vergete, rooikoeldrank en ‘n uur of wat se ontsnap na tye vol perdekarre en telegramme. Skatte van onpeilbare waarde. 


Jy sien, agter die gruis hope van grys hare en valstande is skagte en skagte vol skatte in die vorm van oumense se onthou-dinge. Vertel vir my van ‘n blogger wat kan jou kan leer hoe om na sestigjaar steeds getroud, en getrou, te wees? Of hoe om aan te hou bestaan wanneer jy vir die eerste keer in daardie sestigjaar skielik alleen moet wees. Watter video kan jou wysmaak oor hoe om twaalf kinders deur hongersnood en vloede, droogtes en dood lewendig aan die grootmenskant uit te kry?! Waar kan jy ‘n artikel opsoek wat jou gaan leer hoe om lewenslus en vreugde en belangstelling te behou wanneer begrafnisse van jou tydgenote die plek van troues en geboortes inneem?!  Watter vlogger kan jou raadgee oor hoe om aan te hou glo in God en glo in goed, vyftig jaar van nou af?! 


In my hart is daar ‘n pleidooi en ‘n noodkreet, ‘n dringendheid en ‘n uitdaging. Die plastiek juwele met die glas steentjies sal oor tien, vyftien jaar steeds daar êrens in ‘n kuberwolk tevinde wees. Maar die gruishope…as die wind van die ewigheid eers oor dit begin waai gaan ons nooit weer daardie skatte, die goud en diamante van ervaring, kan opdelf nie. Die vloggers raak meer en meer, die bloggers al beter en beter, maar ons senior mense…hulle het soveel lesse om ons te leer, stories om ons mee wys te maak! Maar, en hier is die ding, dit is ons verantwoordelikheid om daarna te vra!

Moenie jouself beroof nie! Hou op om jou lus na kennis te versadig het half-waar brokkies op die draairak in Crazy Store. Gryp ‘n lantern en klouter by die skag af, loop soek daardie goud tussen die ingevulde blokkiesraaisels en sudoku-boeke. Gaan drink ‘n glas Jannieverjaarkoeldrank en luister. Die beste beitel is die vraag “Oom, Tannie, wat is die een ding wat julle uit so ‘n lang en vol lewe vir my as jongmens wil leer?” 


Ja, in die land van goedkoop plastiek en amper-egte glas lê daar groot hope gruis as getuies van skagte vol onontdekte, onderontgunde skatte! 


Maak tyd.

Delf.

Vra.

Beitel.

Luister.

Leer.

Let op.

En word ryk.

7 thoughts on “Onderontgunde Ska(g)tte

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s