Pokkellyfie, Sparkles en ‘n Slaggat

Die laaste paar weke borrel en prut daar ‘n gedagte in my hart wat hopelik woorde gaan kry vandag. Soos ‘n lappieskombers is daar klomp stukkies van oomblikke en gesprekke wat vasgewerk, een nuwe, mooie waarheid vir my aan die word is. ‘n Gedig van E.E Cummings, ‘n kuier met ‘n seuntjie vol wonder, ‘n pokkellyfie in ‘n getypoel en die botstil-gaanstaan by ‘n slaggat in Paradys Strand.

Erens hierdie jaar het klomp van ons lewens aansienlik stadiger geword vir ‘n ruk.  Ek weet dat dit nie vir almal so was nie, maar baie van ons het vir ten minste ‘n paar weke tot ruste gekom. Soos ‘n onverwagse afrat van vierde na eerste was die begin-weke dalk so bietjie dreunend en steunend vir party, maar mettertyd het meeste van ons die eenvoud van by-die-huis-bly en tyd-hê gewoond geraak.

Kreatiwiteit het begin ontkiem en die wêreld gegeur met uitruilresepte, kuns-uitdagings en musiekvideos van maats wat ek nog nooit eens hoor sing het nie! Dit was die groot ontwaking van die amateur liedjieskrywer, houtwerker, skrywer, musikant of sommer net madala-inkleurder! Dit is so asof ons ‘n nuwe deel van onsself ontdek het in hierdie stadigheid. Wat selfs mooier is is die feit dat so baie skielik braaf genoeg was om daardie nuwe ontdekking van hulself met ander mense te deel. My magtag, daar was ‘n oom wat op nasionale TV ‘n kommentator gespeel het vir ‘n vrugte-rugbywedstryd! Kreatiwer en brawer as dit kry jy nie sommer nie! 


En dit is hier waar my gedagte broei…

Wat is dit om stadig te lewe? Hoe lyk dit om ‘n kwaliteit lewe te leef, ryk aan kreatiwiteit en braafheid en spontane uitgelatenheid? Wat is dit om waarde uit die alledaagse te put? Is daardie kwaliteit en waarde regtig afhanklik van rustige ure sonder grense, of kan ons dit nogsteeds geniet in die besigwees van ‘n dag-tot-dag bestaan? Is daar ‘n moontlikheid om iets van die eenvoud en mooi van hierdie jaar se jaagvrye-maande vas te vang en saam met ons te dra? Kan ons dit aanhou ervaar al skakel ons weer ruk-ruk oor van eerste na vierde? Hoe behou ons die mooi wat ons leerken het in hierdie tyd van afskakel en stilword? 


 Deesdae as ‘n vreemdeling my vra , stel ek myself voor as ‘n “aspiring writer and artist”. Ek weet nie of is ek werklik gemagtig om dit te kan sê nie, maar ek voel dit is ‘n maklike uitweg uit al die grootmensvrae wat ek baie selde wil beantwoord. Een van die voorregte as “aspiring writer” is dat ek ‘n dag in die week mag vat om laf te wees en sommer net te doen wat die kunssinnige in my nodig het. 

Drie weke gelede het die skrywer in my besluit dat ek nodig het om vir ‘n volle dag nuwe dorpies in die omgewing te gaan verken. Sonder padkaart of google maps het ek myself verdwaal tot by die lieflikste restaurantjie op die rand van ‘n vreugdevolle gety-poel. Vir ‘n uur of wat het ek oor die see uitgestaar, soos net “aspiring artists” mag doen. My metgesel ‘n geurige koppie tamatiesop, ‘n groot milkshake en die lieflikste, sterkste, kraakvryste plastiekstrooitjie.

Daar voor op die strand het ‘n pokkellyfie haarself spierwit besand, rollend en laggend en spelend in die son. Hardloop drilbeentjies water toe, blinknat afgespoel, spat en lag skaterend. Die kersierooi swem-nie-swembroekie het gestoei en geklou om bo te bly. Hol kringe om haar mamma op die handdoek onder die groot sonhoed. Rol. Vaal. Afspoel. Draai. Spat. Blink. Lag. Hol. Rol. Totaal en al oorgegee aan die oomblik. 


Op my onlangsste doelbewuste-verdwaaltog het ek in Paradys Strand beland. Dit was na ‘n spontane links in ‘n klein kant-straatjie en regs in ‘n opdraande-pad wat ek tot stilstand gekom het, ‘n klipgooi weg van die kolossale slaggat. Dit was nie so seer die gat wat my laat stilhou het nie, maar die spattende bolletjies vere daarbinne. Vier spreeus en een geelvink was besig om hulself te verloor in die modderige waterplas. Ogies toe. Vlerkies rittelend. Poflyfgenot. Uitspattig! Uitbundig! Uitgelewer aan die lekkerte van die oomblik! 

 
Verlede week op ‘n matras teen ‘n stoepmuur, verskuil teen die wind, het ‘n hartsvriendin van kleur en diepte my voorgestel aan die skat van E.E.Cummings se in the time of daffodils. Ek gaan aspris nie baie oor die gedig sê nie, want daardie woorde, deurweek met Lig en mooi, verdien veel meer as bloot ‘n paragraaf in ‘n skryfstuk oor ‘n ander onderwerp. Al wat ek gaan verklap is die strofe wat in my hart kom kolk  het hierdie afgelope week:

“in time of all sweet things beyond
whatever mind may comprehend,remember seek(forgetting find)”


Remember seek…forgetting find. 


Josiah is ‘n klein blou-oog seuntjie met die spierste wit hare. Hy is ‘n regte egte seuntjie-seun wat van stootskrapers en trekkers en skateboards en bore en brandblussers hou. Hy is een van my nuutste maatjies. Ek vermoed dit gaan nog ‘n rukkie neem om sy vertroue te wen sodat ek ook tata-drukkies mag kry, maar ek is bereid om aan te hou maatjieswees met hom tot dan, want hy is wónderlik! Na ‘n strandkuier saam met hom, sy mamma en baba boetie het ek en Josiah solank in die kar gaan klim. Sonder veel waarskuwing het hy sy bonaqua waterbottel in my hand geprop en opgewonde gesê-vra “Show me the sparkles, show me the sparkles!”. Verstar en deurmekaar het ek soos ‘n regte grootmens met ‘n mond vol tande probeer uitdink wat hierdie lieflike kind vir my vra. Hy het my verstaan-nie-gesig soos ‘n inkleurboek gelees en die bottel teruggevat en dit begin skud. En daar…daar in die vroegmiddagson word ‘n doodgewone plastiese bonaqua bottel ‘n toor-kapsule vol liggies en wonder soos die borreltjies spring en dans deur die water! He showed me the sparkles.


Jy sien, meeste van hierdie laslappies was skaars ‘n minuut of twee lank gewees. Soos dun snytjies tyd in langdradige dae van dolheid. Onverwagse oomblikke van mooi wat die res van my dag met wonder en kleur en woorde gevul het.  Ander was weer uitgedink en bepland, doelbewus soos die inwaai by die see-kafee. Die tyd gemaak om soos ‘n speel-speel kunstenaar stadig te bestaan vir ‘n wegglip-middag of vroegopstaan-oggend. 
Nes Josiah se sparkles is die wonder dikwels weggesteek in die doodgewone van die alledaagse, slegs gesien deur die oë van ‘n kind. Soos die spreeus in die pothole is die lekkerste lekker dikwels te vinde in om die dankie-sê-driehoekie te druk en soos ‘n propse taxi stil te gaan hou daar waar jy normaalweg verby sou jaag êrens heen. ‘n Minuut van jou tyd inruil vir oë wat weer sien. Raaksien. 

Maak tyd om dinge te doen sonder te veel doel. Kleur nou en dan weer daardie madala in, nie om dit weg te gee of beter te word nie, doen dit sommer maar net. Kies ‘n aand en skakel die televisie af sodat julle weer kaart kan speel of rugbykommentator-oefen op julle vrugtebak of mekaar se gunsteling liedjies kan luister. Staan vroeg op Saterdag en gaan stap bietjie buite voor nege in die oggend, en groet almal asof ons nou net agter die swaargrendel uit is. Sit die huis se ligte af en gaan bewonder die  sterrehemel behoorlik vanaf die naat van jou rug. Gebruik jou af-middag en loop ry deur ‘n nuwe woonbuurt, bekyk die vreemde huise en onbekende bome en gaan drink ‘n koppie iets by ‘n kafee waar jy nog nooit vantevore was nie. Neem tyd om net bloot te wees. Kreatief te wees. Spontaan te wees. Verwonder te wees. remember seek (forgetting find)


Spandeer meer tyd met kinders, soos kinders. Stop vir ‘n oomblik en vra om te sien deur die oë van hierdie kleine mensies. Laat hulle toe om jou weer te leer speel, kyk saam Spongebob en luister waarvoor hulle lag. Jy hoef nie jouself witlyf in die sand te gaan rol nie, maar klim tog net vir ‘n oomblik onder die sonhoed uit en laat jou broekspype of romp se soom vir ‘n slag natword. Kry jou tone vol sand en vind uit waaroor die skaterlaggery gaan! Sit op die mat en speel vir ‘n rukkie saam legos…allow them to show you the sparkles!  


So, wat ek gesien het is dat daar nog nét soveel mooi hier in vierde rat is soos in die stadigermaande van vroeër die jaar. Kwaliteittyd is nie noodwendig kwantiteittyd nie. Kwaliteittyd is bloot jaagvrye-tyd. Dit is ‘n oomblik van stilhou en uitspattiglik bad in die pothole van jou lewe – ogies toe geniet dit wat vir jou lekker is. Oorgegee aan die oomblik! ‘n Blikkie kondensmelk in jou handsak vir teetyd by die werk of  saamsing sonder skaamkry wanneer jou liedjie beginspeel.  Dit is ‘n keuse of twee wat jou hier en nou weer kan optower met kreatiwiteit en braafheid en spontane uitgelatenheid! ‘n Vrywillige verandering van perspekief oor die dinge wat vir jou kleurloos gewoon geraak het. 


‘n Kreatiwe lewe is dalk bloot om eenvoud hier en daar weer te begin kies.

‘n Kwaliteit lewe is miskien om weer braaf genoeg jou grootmens-trots so nou en dan neer te lê. 

 ‘n Stadige lewe is miskien om, te midde van jou vinnige bestaan, die sparkles raak te sien…

5 thoughts on “Pokkellyfie, Sparkles en ‘n Slaggat

    1. Dankie, Jansie, dat jou mooi woorde en taalgebruik ook my gedagtes kon word. Gedagtes wat ver kon dwaal en wat net so ver in my driehoek van onthou gebêre is, maar wat weer lekker lewendig kon word met al die onthou😘🌸🌸🌸

      Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s