Neus teen die glas, of nie

Naas die lagplooijies om ‘n oumens se oë en die dansende spikkels lig in waterdruppels is daar min dinge so mooi vir my soos die bid van ‘n kind. Dit sê soveel meer as wat tientalle grootmens gesprekke ooit sal kan ontbloot.


Ek het nou die dag by nuwe mense gaan aandete eet. Ek weet, eintlik is ék die nuwe mens in die dorp, maar hulle is nuut in my lewe so by wyse van sprake is hulle my nuwe mense. Dit was sommer so ‘n spontane uitnodiging en ‘n spontane “ek is oppad” wat my daardie Maandagaand aan hulle etenstafel laat beland het. 
Die oudste van die drie mooie kindertjies was gevra om te bid. ‘n Opgeskote seun in sy Paw Patrol pajamas. Ek kan nie lekker die hele gebed onthou nie maar die woorde wat ek wel onthou, het diep in my hart lêplek gekry.   “Here Jesus, dankie dat U lief is vir ons en dankie dat as U iets belowe U nie jok nie. Amen.” 


So mooi soos lagplooitjies en waterdruppels en kinderharte se eerlike erkennings is vir my so vieslik is plantluise op nuwe-groei blaartjies, ‘n stomp skeermes wanneer ek haastig is en daardie aaklige vang-‘n-polshorlosie-met-‘n-ysterklou-in-‘n-glaskas-masjiene. O jinne! 


Die winkelsentrum oorkant ons laerskool was die tuiste vir ‘n DVD- en goedkoop-loslekker-winkel, apteek, tuisnywerheid met melk-ysies, haarkapper, OK grocer en daardie verpeste horlosie vang-masjien. Vyfrand na vyfrand het ons gestaan en kyk, klein sproet-neusies wat snot- en wasemkolletjies teen die glaskas maak. Een na die ander het ‘n kans gekry om ten minste helfte van hul sakgeld in daardie slootjie bo die draaiknop te druk. Vyfrand na vyfrand het ons gesien hoe die meganiese klou vat-vat en dan misvat. Selfs erger was die vat-vat en raakvat net om dit oppad na die gleuf, waardeur dit na jou toe moet val, te laat losglip. Die groot begeerde skat só ontsettend naby, tog só ontoeganklik vêr!

 Jy sal dink na die eerste vyfrand sou ons ons les geleer het, maar nee, oormôre was ons terug met harte vol hoop en hande vol durf om daardie taaierige joystick te manuever om die yster hand te kry om net éénkeer te sluit oor die sponsblok met die polshorlosie om. In al my laerskool jare het ek nog net een keer gesien hoe iemand iets gevang kry met daardie masjien. My maatjie se boetie se beste vriend sal in my oë vir altyd so bietjie verhewe bo die res van die mensdom wees.


Ek beskou Rubin as een van my goeie vriende alhoewel ek byna ‘n jaar laas met hom gesels het. As ek myself moet verbeel hoe ‘n bybeltydse rabbi gelyk en geklink het, sien ek nogsteeds Rubin se vriendelike oë en hoor ek sy ontsagwekkende stem. Hy is ‘n man van diep wysheid wat sonder veel aanporring met enige iemand groot lewenswaarhede in eenvoudige verstaantaal kan deel. Sommer so, sonder veel dink of wonder. 


Dit was ‘n warm dag op ‘n olyfplaas in Turkeie toe Rubin ons vertel het van sy gesin. Met ‘n geaardheid wat blomme aan ‘n Namakwalander sal kan verkoop het hy ons sommer lief gepraat vir sy huismense. Erens het hy iets gesê wat die laaste week of so, na die aandete by my nuwe mense, my heeltyd bybly: “As daar een ding is van my pa wat ek wéét dan is dit dat hy ‘n man van sy woord is.”  Die oortuiging in hierdie seun se hart oor sy pa se woord-vastheid was byna verbysterend. Dit is ‘n feit wat nie oop was vir bespreking of verskil nie. Onveranderlik, beproef en waar. 


Ek wonder of jy sal kan raai waarheen ek oppad is hiermee…kom ek verduidelik.


Net soos die bid van ‘n kind, glo ek dat ons as grootmense se gebede ook so onbeskryflik baie van ons geloof en ken van God sê. Wanneer laas het jy geluister na hoe jy bid? Waarvoor jy bid? Waarom jy bid?


Ek dink baie van ons as glo-mense bid asof die beantwoording van ‘n  gebed so bietjie soos die vang van ‘n sponsblok met ‘n polshorlosie om is.
 “As dit U wil is…”  word amper soos die maneuver van ‘n joystick in ‘n poging om dalk, net dalk, hierdie een keer “reg” te vra.

Ek onthou hoe verras ek was toe ek die eerste keer gesien het hoe iemand wat doof was voor my oë weer kon hoor nadat ‘n vriendin gebid het vir haar. So asof ek ‘n R5 gebed in ‘n slootjie laat val het en bloot aangeneem het dat ons mos inelkgeval nie gaan sien hoe God opdaag nie. 


Ons lees getuienisse van wonderwerke en onthou dit, vertel dit en kyk op na dit  asof dit iemand is wat een keer in ons leeftyd die “trick van die yster klou gesnap net”. So amper asof dit ‘n blote onwaarskynlike gelukskoot in iemand anders se lewe is. Maar hier in ons eie lewens bly die “wil van God”  soos die meganiese klou wat net-net mis vat of net te vroeg laat los. Onvoorspelbaar en buite ons bereik of verstaan.

Jy sien, hierdie glo maak ons gebede besonders versigtig en katvoet-deurdink. Dit maak ons tevrede met veilige-gebede wat nie veel  van ons kos nie, maar ook nie veel verder strek as ons eie smal verstaanwêreldjies nie.

Ek dink ons kruip soms weg agter die noodsaaklikheid om God se wil tot in die fynste besonderhede te verstaan sodat ons op een of ander manier gevrywaar kan wees teen die teleurstelling en twyfel van wanneer Hy nie ons gebede beantwoord nie. Wanneer die geld nie inkom nie…die dowe vrou nie hoor nie…die verlamde man nie opstaan nie…die stormwind nie gaan lê nie… wanneer dood nie wegbly nie.


Maar hier is die ding…God is nie ‘n simpel glaskas met ‘n ysterklou en joystick langs die ingang van ‘n OK grocer nie! Ons is nie oorgegee aan ‘n eens-in-‘n-leeftyd-gelukskoot nie! Nee, Hy is ‘n Abba-Vader, ‘n Pappa-God wat nie jok wanneer Hy dinge vir ons belowe nie. Hy is ‘n man, of God, van Sy woord. 


Hy is ‘n veilige plek om te kom vertel van jou eie hartsbegeertes en om soos ‘n kindjie op ‘n oupa se skoot Hom uit te vra oor Sy hartsbegeertes. Die “wil van God” is iets wat ons leerken soos ons Hom leerken. Dit is ‘n gemaklike plek waar ons koester wat Hy koester, omdat Hy dit koester wat ons koester. Daar naby aan Hom help Hy ons onthou dat Hy, met Sy almag en hemelse leërskare, aan die kant van waarheid en lewe en lig staan. Dat Hy steeds die God van die onmoontlike is. En dat dit Hom blymaak wanneer ons besef dat ons Hom kan en mag vra vir die onmoontlike dinge om en in ons!  


Maar wat maak ons wanneer ons só hard iets glo en dit met braafheid vra en dit gebeur nie? Draai ons weg, skaam oor die teleurstelling wat so werklik is? Kwaad oor ons nie meer  weet of Hy enigsins bestaan nie, omdat die onmoontlike dalk toe wel nie moontlik was vir Hom nie? 


Nee, dit is nie nodig nie. Jesaja 64 sê so mooi hoe God oop-arms staan en wag vir dié wat Hom in Sy weë onthou. Dié wat nie wegdraai by dit wat Hy doen of nie doen, neus teen die glas staan by dit wat Hy toelaat of nie toelaat nie. Dié wat met al hulle  seer en teleurstelling en trane op Sy Pappa-skoot loop klim en sê “O Here, help my om U te verstaan, U te onthou binne in hierdie weg van U. Help my om U te ken en te vergewe en te vertrou al verstaan ek nie.” 


“Here Jesus, dankie dat U lief is vir ons en dankie dat as U iets belowe U nie jok nie. Amen.”

8 thoughts on “Neus teen die glas, of nie

  1. Hierdie een nou eers raakgelees. Want ek het juis eers die week besluit hierdie 50/50 “as dit U wil is” is sommer bog. Glo eerder en word teleurgestel is beter as om neutraal te bly en maar te wag om te sien wat gebeur – het ek en Karla gister oor gepraat.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s