Lente

Die wind woed vandag soos ek dit nog nooit vantevore leerken het nie. Stormagtig is die woord. Dis net duskant half 8 in die môre en ek was alreeds meer as een keer bly dat ek maar eerder my blommerok vir die absolute verbeeldinglose sweetpakbroek en oorgroot mus verruil het.  Met my hele hart wou ek graag my blommerok te gedra het vandag. Hoekom? Want dis lentedag in Suid-Afrika en ek wou myself daarin inlééf!


Na koffie en sonsopkoms op die strand het ek sommer so ‘n draai verby die reisende UIF kantoor gery – een van die vele nuwighede wat kleindorpies soveel anders as stede maak. Die “ry”  bestaan uit ‘n groepie van agt mense wat elk in hul eie sonkol van die wind probeer skuil en al geselsende saam wag. Dit lyk toe heel lekker en ek besluit redelik impulsief dat ek dan vandag sommer daar gaan inval  en die oom agter die rekenaar al my vrae gaan vra. 


Die vrou met die borselkop seuntjie lyk effens kwaai en bekommerd. Die jong meisie met die mooi oë, wat net-net agter die masker uitsteek, is vriendelik en geselsend. Vyf van die agt ken mekaar eintlik. Ek kry die gevoel hulle is al ‘n paar weke lank tou-vrinne van so saam se wagstaan vir die wit departementkar wat elke Dinsdag hier ingery kom. 


Soos ek hier kruisbeen op die plaveisel sit, sit en bedink ek hierdie nuwe seisoen. Lente. Dit is eintlik so ‘n vreemde ding as jy mooi daaraan dink. Gisteraand 23:17 toe ek my lig afskakel en Braam se wiel begin tjirr-tjirr was dit nog winter. Vanoggend, 06:02, toe ek my oë oopmaak, na ek my wekker al drie keer toe-oog probeer smoor het, toe is dit skielik lente. Dit is die enigste seisoen wat so werk. 


Somer word herfs so stadig maar seker. Die dae raak korter en die nagte kouer, die wilgers en akkers en platane begin verkleur.  Dit gebeur geleidelik soos natmaak voor ‘n koue swem. Tone…voete in…enkels…plas-plas om die polse…spat bietjie op die maag..knieë…heupe…afsak…skouers…en dan met ‘n snak na asem is dit herfs! Die hele wêreld onderdompel in geel en bruin en rooi en oranje! 


Oom Johan Schutte van die weerdiens waarsku ons van die snerp stekellyne oppad langs die kus. Sutherland se nagtelike minusse en die 60% oor die Kaap kondig winter stelselmatig aan. Dit gebeur ook die net oornag nie, ons sien dit kom in byna elke klerewinkel se vertoonvenster. Die bome se kaal stamme en die ophark van die laaste geel help die gewaarwording insink. Winter het gekom. 


Erens binne die volgende paar maande gaan lente ook nie meer lente wees nie. Ons gaan êrens begin praat van somer. Soos dagbreek gaan perskes en appelkose, waatlemoene en strande vol lywe dag vir dag meer en meer word totdat dit eendag bloot somer is. Daar gaan nie ‘n spesifieke tyd wees nie, dit gaan maar net so skelm gebeur sonder dat enige iemand dit enigsins agterkom. Geleidelik en tydsaam. Bietjie vir bietjie.


Maar Lente.

Lente is ‘n ander storie. Lente het ‘n dag. Lente het ‘n datum. Of dit nou vrêk koud is of nie, dit is nou lente. Of die son skyn en of jou petunias hangkop doodgeryp is, of jy nou lus is vir roomys en of die wind jou kruidenierstrollie op stormloop sit, van vandag af is dit lente. Daar is geen terugdraai of geginnegaap daaroor nie. Dit is nou so en ons het eintlik nie ‘n sê daarin nie. 


Die man met die pet hier langs my is lus vir  warm koffie en beskuit, ek wil so graag ‘n ham en kaas snoepie-toebroodjie hê. Ons staan al ‘n uur en ‘n half. Die borselkop kind kry pakslae omdat hy nie sy warm baadjie wil aantrek nie. Die tou is nou al aansienlik langer. ‘n Oom sonder voortande of masker kom gesels hier voor oor hoe hy nie dink hy eintlik hier moet wees nie want hy het al ‘n uitbetaling gekry. Hy weet net nie hoekom hy nog nie dié maand se sms gekry het nie. Dalk oor gister Maandag was. Nou staan hy maar. Die meisie met die groot oë se ma bring vir haar vetkoek en mince


Die man met die pet sê dit is regtig ‘n onplesierige dag en ek wonder of praat hy oor die weer of dalk iets anders. Hy vertel my hoe hy nooit gedink het hy sal in so ‘n tou moet kom staan nie – hierdie pandemie het hom heel onverhoeds betrap.

Dit laat my dink aan my tannievriendin wat haar oudste seun moes groet vir ‘n werk 1000km weg. Sy is bly oor sy geleentheid en toekoms, tog was sy ook so ontsettend hartseer oor die onvermybare leemte in haar huis.Ek onthou my hartsmaatjie se broodnodige uitmaak met haar jarelange kêrel en ons laaste dag van matriek. Ons almal het geweet dit kom, dit was tyd en ons was gereed maar die groet was steeds vol trane en nostalgie. ‘n Onafweerbare verandering. Skielik. Tog nie onverwags nie. Vol finaliteit. Klaar. Sonder die moontlikheid van uitstel of afstel. Vasgemaak op kalenders en in harte. 


Die oom sonder die masker of voortande se foon het gepiep. Sy inbetalings-sms het nounet deurgekom. Ons nege, die agt en ek, hier voor is almal saam met hom bly. Al moet ons nog wag, kan hy nou maar loop. Groet.  

Terwyl die wind my papiere byna beetkry besef ek dat verandering mos ook nie nét swaar en mistroostig is nie. Lente is mos eintlik ‘n lieflike, lewensryke seisoen! Ek dink aan ‘n liefste vriendin en vriend wat só naby aan die einde van hulle nege maande wagtyd is. Een dag gaan dinge wees soos dit op die oomblik is en ‘n volgende dag gaan daar ‘n baba-asempie wees wat skielik van hulle ‘n mamma en pappa gaan maak. Daardie verandering het ook ‘n dag. Dit het ‘n datum. En dit is so mooi. 


Jy sien, die mooi van lente is nie noodwendig opgesluit in hierdie een enkele dag nie. Genadiglik nie!  Dalk was jou lentedag ook behoorlik stormagtig soos myne, dit beteken nie dat die hele lente stormagtig gaan wees nie. Nee, dit is juis die ding! Die mooi van lentedag lê in die wete dat dit die beginpunt van iets nuuts is. Lentedag. Soos ‘n streep in die sand wat sê dat daar bloeisels en langer dae en lowergroen takke en warmer nagte oppad is. ‘n Streep in die sand wat sê “Ek gaan solank begin uitkyk vir daardie bloeisels en lowergroentakke en warmer nagte en langer dae – al sien ek dit nog nie vandag nie”. Lentedag herinner ons dat winter se koue bietjie-vir-bietjie minder gaan word en dat daar êrens ‘n somer staan en wag vir ons.


Lente is ‘n tyd van hoop.


Ek is ook nou lus vir koffie en beskuit en die man met die pet reken dat hy ook nie nee sal sê vir ‘n lekker warm snoepie-broodjie nie. Ons wag nou net-net langer as twee ure. Die oom wat sy sms-piep gekry het het na 10 minute teruggekom. “Lat êk eers gou my longe kom warm mak by julle.” Hy steek sy sigaret op en kom staan en kuier voort hier by ons voorste agt. Kies om sommer so uit sy eie saam te wag want die saamwees is eintlik lekkerder as wat enige van ons in die oomblik sal kan erken.

En saamwees is eintlik ‘n keuse. 


Soos die wit Chevy Spark met die munisipale plakker op die deur om die draai kom bid ek dat hierdie lente sommer hope hoop saam met die menigte onsekerhede sal bring.  Mag daardie hoop aansteeklik wees soos die lus vir warm koffie en beskuit of snoepie-toebroodjies. Mag ons vashou aan ons papiere wanneer die woeste winde ons weg wil waai. Mag ons kies om bly te wees wanneer iemand anders die sms-piep voor ons kry. Mag jy begin uitkyk vir die bloeisels en lowergroentakke.


Maar meer as dit alles, mag jy, en ek, kies om eerder in ‘n sweetpakbroek en oorgroot mus saam te wees as om in ‘n blommerok alleen te loop. 


Gelukkige Lente! 

One thought on “Lente

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s